Beige Ford Cortina

Doen jouself ‘n moerse guns: As jy nou nog nie vandag iets gesien het waaroor jy in jou mou kan giggel nie, dan moet jy die Beige Ford Cortina-video sien.

Ek het mos so twee of drie weke gelede dringend ‘n beige Ford Cortina gesoek. En die video was die rede daarvoor. Maar dit was nie maklik om die blerrie kar te kry nie.
Omtrent twee maande voordat ons die video sou skiet het ek al begin karsoek. En toe kry ek ene by ‘n man met die naam van Dries. Dries is van Boksburg Noord. Maar Dries het nie vir my so heeltemal lekker geklink dat ons sy Cortina vir die dag by hom kan huur nie. Hy het my so half en half aan ‘n lyntjie gehou.
Ek kry toe nog ‘n Ford Cortina by Sheldon in Lenasia vir in geval Dries my sou drop. Die Maandag voordat ek en www.khakiproductions.comdaardie komende Sondag die video skiet bel ek toe weer vir Dries. Om te bevestig dat ons sy Cortina kan huur. Maandag sê Dries nog dis reg, maar daar kom mense na die kar kyk wat hom dalk wil koop. Hy sê ek moet hom Vrydag se kant bel.
Vrydag bel ek toe vir Dries en hy antwoord net nie my oproepe nie. Ek vra toe vir Marietta om hom van haar nommer af te bel wat sy toe ook doen. En Dries druk sommer die foon in haar oor dood. Toe begin die moeilikheid.
Saterdagoggend bel ek vir Sheldon. Nee, sê hy vir my, hy het sy Cortina aan sy broer verkoop, maar sy broer sal nie omgee as ons die kar vir die dag wil huur nie. Ek bel toe die broer en hy wil nie sy kar op ‘n Sondagoggend van Lenasia af Germiston toe ry nie. Hy’s baie jammer, maar nee. Sorry.
Kyk, toe is dit rep en roer in my huis. Alle alle reelings vir die skiet van die video is getref. Maar ek het nie ‘n Cortina nie.
Ek spring daar op die interweb en begin soek. Dan kry ek een in die Kaap. Dan kry ek een in Bloemfontein. Maar ek kom nie reg nie. Intussen spring ‘n paar pelle ook in en help soek, maar dit lyk asof als verniet is en ons die shoot moet kanselleer.
Teen twee-uur die middag kry ek ‘n Cortina in Secunda. Die man se naam is Gerald. Ek vra vir Marietta om hom ook te bel sodat hy kan hoor ek skeer nie die gek met hom nie. Gerald Esterhuizen is van GJE Carriers en hy is meer as gewillig om sy kar Sondagoggend vroeg van Secunda af Germiston toe te ry.
Kyk ek was om die minste te sê verlig.
Later die aand toe ek eiers begin pekel whatsupp een van my vriende my: “Mag die drol wat jou gedrop het se kar nooit weer start nie en mag sy sparkplugs nooit weer spark nie, sy radiator nooit weer radiate nie en sy pistons nooit weer pis nie, hahahaha!”
Gepekelde eiers:
Hoedereiers werk net so goed soos kwarteleiers hoewel kwarteleiers heelwat mooier vertoon.
Kook soveel eies as wat in jou botteltjie gaan pas.
As hulle klaar gekook en afgekoel is sit hulle versigtig in die bottel.
Gooi nou gedistilleerde asyn in om die botteltjie vol te maak en die eiers te bedek.
Dan ‘n eetlepel (nie te veel opgehoop nie) borrie.
En siedaar!

One thought on “Beige Ford Cortina

  1. Pingback: Video: Riaan Cruywagen en Mariëtta Kruger in Beige Ford Cortina-musiekvideo | Lowvelder

Comments are closed.