Bloed in die Bosveld

Teen die einde van die week het al drie van Oupa se gaste gebloei. Net ek en hy het niks oorgekom nie.

Dit het alles begin die middag met my skaapboud in ‘n pot op die vuur.

Ek bevind myself saam met ‘n handvol Oumense in die hartjie van die Bosveld. En ek  verwys met respek na Oumense. Ons gaan almal tog self oud word. En ons gaan almal self eendag ‘n jongeling nodig hê om ‘n ogie oor ons te gooi en ons doppe vol te hou. Mens leer ook immers die meeste by Oumense en kinders.

Die pot prut

Iedergeval. Oupa is ‘n mede-eienaar van ‘n huisie in die Bosveld. En een keer elke agt weke kan hy vir ‘n week daar gaan bly. Die huisie het vier slaapkamers. Vyf badkamers. ‘n Oop kombuis met tv- en sitkamer. DSTV.  Twee stoepe, een bo en een onder by die sonkamer. ‘n Swembad. ‘n Klein stoorkamer tipe van dingetjie en ‘n volledige braaiarea. Dis eintlik ‘n lieflike plek.

As ons nie saam met hom kan gaan wanneer dit sy beurt is nie dan nooi hy graag sy vriende. Die bure langsaan of die oorkantste bure. Sy week begin op ‘n Vrydag en eindig dan weer die volgende Vrydag. Met sy laaste beurt kon nie een van ons gaan nie. Ek kon nie gedurende die naweek nie, maar ek kon gedurende die week gaan.

Oupa het sy oorkantste bure, Ou Steyntjie en Marietjie saamgenooi. En Marietjie se broer Klasie is toe ook saam. Ou Steyntjie en Marietjie is nes Oupa ook in hulle tagtigs. Klasie is in sy laat sestigs. Hulle vier gaan al die Vrydag en dan sluit ek die Maandag by hulle aan. Ek bring die gemiddelde ouderdom natuurlik drasties af.

Maandagaand het Klasie gebraai. Ek kan nie onthou wat die bykosse was en wie dit gemaak het nie. Wanneer jy na Oupa se plasie toe genooi word, word ‘n lys van kosbeurte opgetrek. Elke gas kry ‘n dag om vir daardie dag se etes te staan. So kom ‘n week se geëet nie op een mens neer nie.

Die Dinsdagoggend het ek gou deurgeskiet Vaalwater toe. Daar het ek ‘n lifelike skaapboudjie gaan koop. Spesifiek vir Dinsdagaand. Dit was Oupa se kosbeurt, maar ek het dit sommer by hom oorgeneem.

Ek maak graag ‘n potboud. Dit verhoed dat die vleis uitdroog. Daar is vir my niks erger as daai droë voetsool-velletjies-vleis nie. (Met daai droë boude op ‘n Sondagmiddag moet die kinders noodwendig ook soet tafelwyn kry want anders kan hulle ook nie die vleis afgesluk kry nie.)

Iedergeval. Teen 15:00 is my boud en sy bestanddele in die pot. En die pot is op die vuur.

En so sit ons lekker in ons kampstoele in die braaiplek en kuier om die pot. Ek hou die oumense dop en gooi die glase weer vol. Oupa drink altyd eers ‘n paar Gin en Tonics en slaan dan later oor na Chardonnay. Ou Steyntjie is op Coke en Cane. Marietjie is op VAT69 (whiskey) en Klasie ook.

Ek drink self ‘n whiskey maar hou dit lig en kalm want ek is verantwoordelik vir die pot en sy kosbare inhoud. En ek verluister my aan al die Oumenspraatjies. Van die hout, roomskeiers wat later ‘n handvatseltjie gekry het dat jy hom kan draai. En die prys van niekkerballs. En die een en daai een se grootste pak slae. En hoe groter die slukke hoe verder gaan hulle in die geskiedenis in. Maar ons kuier heel lekker en vrolik.

Toe dit begin skemer word vra Klasie vir Oupa of hy nie van die groot stompe wat vorige mense halfpad gebrand het kan gebruik om ‘n atmosfeervuur in die middel van die braaiplek aan te steek nie. Oupa is nogals erg oor sy braaihout. As ons vuurkos maak dan gebruik ek en Oupa – net hout. Verkieslik Sekelbos. ‘n Atmosfeervuur met braaihout is dus buite die kwessie.

Amper daar

Maar die reuse stompe wat ander eienaars en hulle gaste al so halfpad gebrand het sal in die haak wees. Volgens die plaasbestuurders se reëls mag mens nie hout in die veld optel om te gaan brand nie, maar ons weet mos nou nie – dalk het hulle die groot stompe van êrens anders af hiernatoe aangery. Hoe sal ons nou weet.

Dis toe al sterk skemer toe Klasie opstaan, sy leë glas neersit en na die agterkant van die braaivleisplek se muur loop. Aan die agterkant is ‘n stewige skuinste. En ons is nogals hoog op teen die berg. En daar waar die stompe lê is dit maar Bosveld hoor.

Ek vat nog so ‘n slukkie van my whiskey toe hoor ek hoe rol die klippe en stompe en takke wat kraak.

“O, hel,” sê ek en staan op, “Klasie het nou net hier afgerol.”

Maar die Oumense hoor my nie lekker nie en ek sê dit weer. “Marietjie, kyk net gou oor die muurtjie of jy vir Klasie sien ek dink hy’t nou hier afgerol.”

“Herklaas, is jy okay,” sê Marietjie en sy loer oor die muurtjie.

“Jaaaaa,” sê Klasie. En hy kom stadig by die braaivleisplek se trappies opgekreun. Klasie het soos ‘n kind geval. Sy knieë se nerwe is af. Sy elmboë is bebloed en daar is skrape aan sy arms. En toe kry ek effens lag want hy dra trots die reuse swart stomp boontoe. Sy prys.

Hy en Marietjie het toe sy skrape en knieë met VAT69 gaan skoonmaak en toe sommer vars doppe gaan gooi.

Die aand toe ons eet was die boud gelukkig ‘n treffer en het almal stil geëet en nie verder verwys na ‘n ietwat verleë Klasie en sy val nie.

Kook lekker

Die volgende oggend het ek ‘n brunch in my vuurpan gemaak. (‘n Vuurpan is ‘n pan wat jy op die vuur kan sit.) Vars tamaties met roosmaryn, kaasworsies en roereier met tiemie en mieliepitte. Marietjie en Ou Steyntjie gooi ook graag Coke en Cane vir ontbyt.

Na ete is ons almal na die pawiljoenkar sodat ons op ‘n wildrit kan gaan. Oupa sit binne linksvoor langs my. Hy vra kort-kort vir die beseerde Klasie of hy onthou het om ‘n paar biere vir die pad in te laai. Klasie sit agterop in die tweede ry met die koelboks. En ons wag vir Ou Steyntjie en Marietjie. Maar hulle kom nie en hulle kom nie.

Oupa raak naderhand ongeduldig en beduie my hoe om die pawiljoenkar agteruit te tru sodat sy neus regstaan net vir vertrek. Ek doen dit dan ook graag. Mens moet ‘n stewige skuinste uit en dis eintlik die enigste manier. Neus vorentoe.

Later klim ek uit en gaan soek vir Ou Steyntjie en Marietjie in die huis. Marietjie het ‘n dik pleister net so onder die maermerrie.

“En nou?” vra ek.

“Nee,” sê Marietjie, en ek kan sien haar oë is rooierig en daai plek onder die pleister is seer. “Ek het in die hoekteël van die bad se trappie in die badkamer vasgeloop,” sê sy.

“Toe loop die bloed,” sê Ou Steyntjie. “En toe moes ons eers die bloed stop.” En hy gooi die rooi stukke watte in die asblik. En draai die VAT69 se proppie vas.

Die wildrit het sonder enige erge probleme verloop. Omdat dit onlangs gereën het was die paaie te sleg om regtig ver te gaan ry. So ek het die span af dam toe gery. En daar het ons elkeen ‘n bier gedrink. Ek het so ‘n bietjie rondgestaan op die damwal, maar die Oumense het bly sit. As ‘n Oumens eers op ‘n pawiljoenkar sit, dan sit hy. Want om op en af te klim is eenvoudig net te veel moeite vir sommer net rondstaan op ‘n dam se wal.

Die volgende dag moes ons vanweë verskillende verpligtinge almal terug na hulle huise toe. Ons is vroeg die Donderdagoggend op. Die waentjie staan reg met twee klippe agter sy wiele want hy staan nou op die skuinstetjie wat ek die vorige dag met die pawiljoenkar moes uit. Klasie trek Oupa se kar reg voor die waentjie in sodat hy en Ou Steyntjie die Ventertjie kan haak. Oupa is in die huis en Marietjie ook.

Ek staan by die braaivleisplek en soek nippies. En rook hulle dan ook terwyl ek kyk hoe Ou Steyntjie vir Klasie beduie om agteruit te tru na die waentjie se haak toe.

En daar tref Klasie die waentjie se haak met die kar. Nie te hard nie, maar net genoeg. En die klippe skuif agter die Ventertjie se wiele uit. En die waentjie tol om. En die waentjie vang spoed teen die skuinste af. En met die laaste tol en die wa se momentum trek die waentjie se deksel uit sy skarniere uit. En vlieg deur die lug. En dwarra dwarra op die grond.

Ek nip toe maar my nippie en gaan help.

Oupa het gelukkig niks gehoor nie, maar Marietjie kom uit en ek en sy en Ou Steyntjie en Klasie tel die deksel op en met groot moeiete kry ons die ding terug in sy skarniere. En ons haak toe sommer ook die waentjie.

En dis toe wat Ou Steyntjie vir ‘n pleister vra en met sy wysvinger na sy maermerrie toe wys. ‘n Stroom bloed.

Met die getollery van die waentjie het die Ventertjie se kabelpunt hom op die maermerrie getref. Oupa wat baie heilig op sy kar en waentjie is was gelukkig heeltyd in die huis. Ou Steyntjie se wond is met VAT69 skoongemaak en ‘n dik pleister is opgeplak. En toe is ons daar weg.

Jy gaan dalk hiervan hou: