Bou ‘n slaai!

Ek moet erken in Desember speel ‘n mens maar wyd uit. Dit is immers ‘n feesseisoen. As jou lewer nou na vyf dae steeds noodkrete gee en jy jou bolip vies vir ‘n glasie wyn lig dan moet jy seker maar met jou Januarie detox-plan begin. En ek sê mos altyd: “Bou ‘n slaai.” In die geval ‘n kalkoenboudslaai.

Dit is standaard by ons met Oukersaand dat alamal wat in die dorp is en alleen is na ons toe kom. Dis nou pelle wat nie na familie toe kon gaan nie of enkellopendes of pelle wat in die dorp moes bly om te werk.

Dan is die reeling dat elkeen die een of ander dis of gereg saambring. ‘n Slaai of ‘n vleisie of ‘n poeding. Een of ander iets, dit maak nie saak nie. So voel almal dat hulle ‘n bydrae gelewer het en ‘n groot gekook kom nie net op een persoon af nie.

Vanjaar was weer ‘n groot suksses. Daar was meer as genoeg kos. Die ham, tong en gerookte kalkoenboud is verslind en so ook die aartappelslaai, mengelslaai en poedding. Ek moes noodgedwonge die ekstra kalkoenboud vries. Ook maar goed so want Januarie is mos maar ‘n maer maand.

Die gerookte kalkoenboude is baie spesiaal hoewel dit op die oog af soos ‘n reuse obskure stuk vleis lyk.

sjef snoekie

In Amerika, tydens hulle straatfeeste braai hulle die boude net so heel op die kole. Die mense koop dit net so met ‘n bietjie blinkpapier by die boud se vashouplek. Dan loop hulle die heel dag rond en eet aan die boud.

Maar ‘n kalkoenboud werk mos nie heeltemal soos ‘n hoenderboudjie nie. ‘n Kalkoenboud het baie kraakbeen wat van onder af boontoe loop. Dun stroke kraakbeen wat met senings aan mekaar bind. Dan loop die Amerikaners so en eet totdat die boud soos ‘n waaier uitstaan.

Nietemin, terug by die slaai. Ek maak ‘n gerookte kalkoenboudslaai met ‘n heuningmostert slaaisous.

sjef snoekie

 

Resep:

Slaaigoed:  Ek gebruik ‘n verskeidenheid van vars slaaiblare. Vars pietersielie en dille. Ek gebruik ook klein geblanseerde radyse vir daai pepersmaak. ‘n Bietjie gerasperde wortels en ‘n bietjie geraspede beet. Laaste maar die die minste nie, fyn gesnyde en gebraaide kalkoenrepies en blokkies.

Slaaisous: ‘n Kwart koppie ekstra suiwer olyfolie. Die sap van ‘n halwe suurlemoen. Twee eetlepels heuning. Sout en peper na smaak. En dan twee opgehoopte lepels korrelmosterd. (As jy voel dit gaan vir jou te sterk wees kan jy maar ‘n bietjie minder mosterd gebruik en natuurlik andersom.) Meng die spul goed saam en siedaar.

Metode:

Ek kook my kalkoenboud – in sy diggeseelde – plastieksakkie in ‘n pot met water vir ongeveer 20 tot 25 minute. Haal hom uit die pot en haal hom uit sy sakkie. Dan sny jy die vleis so al langs die kraakbene en senings tot net die waaier van die boud oorbly. Die vleisies sny jy dan eweredig in blokkies of repies en braai dit in ‘n pan met net genoeg olie om die pan se bodem te bedek. Ek hou daarvan om hulle lekker bros te braai net soos wat ‘n mens stukkies spek sou bros braai. Laatsens: Bou jou slaai.

sjef snoekie

 

Voorspoedige nuwe jaar vir ons almal.