Daai Gourmet Wors-kompetisie

So vir die ene moes jy eintlik maar daar gewees het. Maar as jy nie was nie dan vertel ek jou nou hoe dit was. Die kompetisie vind jaarliks plaas tussen die sjefskole van Suid-Afrika. Soos wat die Puk en Kovsies rugby speel tyndens Intervarsity is hierdie kompetisie die Intervarsity van die sjefskole. Dit was gister. By die Fonteine in Pretoria. Daar waar ons altyd as kind saam met die hele familie gaan braai het as Ouma Scheepers verjaar het. In elk geval voordat ek nou van die onderwerp afdwaal…

Ek en mede-beoordelaar sjef Ingrid van Prenox.

Ek en mede-beoordelaar sjef Ingrid van Prenox.

Elke jaar word die kompetisie aangebied deur The Capital Hotel School en Uitkyk Vleis- en Supermark. Dit was fantasties. Regtig.

So wat gebeur is die sjefskole stuur ‘n span of twee spanne van vier of vyf studente en hulle moet ‘n gourmet boerewors maak. Of ‘n gourmet wors. (Want vanjaar het ‘n hoenderwors met gerookte spek, neutmiskaat en salie tweede gekom. Hulle was van die Switserse School of Hotel Management. www.swisseducation.com, gaan kyk bietjie.)

Daar was tien spanne. Die Outlaws van die Chef’s Training and Innovation Academy. Die Traditionals – ook van CTIA. Die Bushveld boerries en die Smoking Sherrifs van Capital Hotel School. Die Average Joe’s en die Sausage Express van die Hospitality Training Association. Dan was daar TGIB (Thank God it’s boerewors van Capsicum.)

Die Union Jack’s van die Switserse skool wat daai hoenderwors gemaak het en tweede gekom het. Die Bangkok bangers wat geure en smake en kruie en kerries gebruik het vir ‘n Tailandse boerewors. (Dit was flippen lekker.) En die laaste span was die studente van Sondella.

DSC_0280

Hulle het van die interessantste wors nog ooit gemaak. Byvoorbeeld: CTIA het rooibostee gebruik en varkpensie gerook en in hulle wors gebruik. Jong Jurgen van Capsicum het koedoe, lamsvleis en lamsvet vir hulle wors gebruik.

Jurgen van Capsicum.

Jurgen van Capsicum.

Span Sausage Express het beenmurg gebruik as hulle vet-komponent (of drywer) in hulle wors. Dit was baie lekker maar die murg het ‘n bietjie uitgebraai en toe was die wors droog.

CTIA – die Outlaws het ‘n derde plek behaal. Hulle het hulle wors gestop met bees, vark, lam, en spek. ‘n Klein bietjie port, rooi-asyn, brandewyn, koljander, witpeper, neut, naeltjies, pesto, parmasan en lemoenskil. Dit was werklik besonder lekker.

Wayne Ferreira en Michael Scullard van die Outlaws.

Wayne Ferreira en Michael Scullard van die Outlaws.

Die wenners was Sondella se studente. Hulle het ‘n gewone boerewors gedoen. Geen tierlantyntjies nie. Netso. Ongelukkig was hulle stalletjie nie mooi opgemaak nie. Maar daar was hierdie plastiekhouertjie wat hulle oopgemaak het met hulle “geheime” kruie en speserye in.

Nadat sjef Ingrid Johnson van Prenox daaraan geproe het het sy die opmerking gemaak dat dit boerewors in ‘n bakkie is. En toe ek klaar geproe het het ek saam gestem.

Sondella se wors het nie gekrimp tydens die gaarmaak proses nie. Dit was nie uitgedroog nie. Die grein was net reg. Die velletjie het goed gehou. Dit was soos ‘n boerewors uit die hemel uit. Goeie genugtig!

DSC_0283

Die Sondella-span was Rassie, Claurissa, Hardus, Michael en Evert. En hulle het eenvoudig beesvleis en varkvet gerbuik om hulle wors te stop. Baie geluk julle!

Maar dis die goed in daai bakkie waaroor ek my kop breek. Ek soek so ‘n bakkie met daardie selfde goed daarin. Daar is ‘n mark daarvoor. Ek sal tien van hulle koop. Selfs veertien.