Die gewraakte wa

Ons gaan nou al vir jare lank met Oupa se waentjie Kamonande toe. Dit is in die hartjie van die Waterberge. Ongeveer sewe kilometer van Vaalwater af. Op die Vrymansruspad uit. Die sleepwaentjie kom ook al vir jare saam met Oupa. En hy is erg oor die wa en pas hom mooi op. Die waentjie sorg egter vir bloedsweet.

Elke keer as ons Kamonande toe gaan koop ek en my huismaats die week se voorraad in Johannesburg. Dan pak ons die Jimny met sorgvuldigheid. Eers die tasse en dan die honderde plastieksakkies met kos en wat nog meer. Dan vat ons die pad Nylstroom toe. Ook bekend as Modimolle.

In Nylstroom stop ons by Oupa se huis. Haak die waentjie aan sy kar. En pak alles wat ons ingepak het weer uit en oor tot in die waentjie. In die somer kan dit ‘n sweterige besigheid raak.

Dan vertrek ons Kamonande toe. By ons huisie moet die kar so gtrek word dat die waentjie nie te ver van die voordeur af is nie. Dan begin die groot uitpak en afpak. Daarna word die waentjie afgehaak sodat die kar omgedraai kan word en neus vorentoe staan vir oor ‘n week se uitry. Daar’s ‘n groot helling by die oprit van ons huisie. So ‘n mens moet maar jou dinge ken rakende die waentjie. Daar moet altyd twee groot klippe agter die wa se wiele wees anders hol hy weg.

Teen die tyd wat jy jou eerste G&T op die stoep gooi is jy stokflou gewerk. Oupa het ‘n paar jaar gelede sy skouer seergemaak en die het nooit weer reggekom nie. Oupa is ook nou al 80 jaar oud. So hy is nie ‘n groot fisieke hulp met die oorpak afpak aanhaak of afhaak van die waentjie nie. Die fisieke werk kom maar eintlik op my en huismaat af. Gewoonlik na so ‘n oefening is my lae rug vir ‘n dag en ‘n half af.

Oupa wat nie meer ‘n fisieke bydrae kan lewer nie staan graag op die kant en lewer verbale bydraes van hoe wat gedoen moet word. Waarheen ons nou die waentjie moet stoot ensovoorts. So nie net is jou lae rug vir ‘n dag en ‘n half af nie, maar jy voel emosioneel geknak.

Een keer het ons vir Ronel saam gevra. Sy was totaal en al verbaas oor hoe hard ons werk. “Nee,” het sy gesê. “Julle doen dit bietjie dom. Maak dit makliker en los die wa op Nylstroom.”

En Ronel was reg. Daar is ‘n fantastiese Spar op Vaalwater. Ons moet net ons tasse en vir Oupa en sy tas oplaai en ry. Miskien een of twee sakkies voorraad vir die eerste aand en die volgende oggend. Ek moet erken ek voel effe skaam dat ek nie self daaraan gedink het nie.

Nou, met ons laaste tog Bosveld toe het huismaat baie mooi vir Oupa verduidelik dat ons nie die waentjie gaan vat nie. Hy moet net regstaan met sy tasse ons sal vir die res sorg.

In Nylstroom aangekom staan Oupa voor die huis en die waentjie is klaar aan sy kar gehaak. Sy buurmanne het hom gehelp.

My moed het my begeef. My hart het in my skoene gesak. Ek kon dit nie glo nie. Huismaat het toe vir Oups sitkamer toe gevat en weer verduidelik dat dit onnodig is. Dat ons twee onnodige harde werk doen deur die sleepwa saam te vat.

Maar Oupa het volgehou met hy is die baas en die waentjie gaan finish en klaar. Toe het my huismaat uitgeloop en ‘n klein bietjie gehuil. Ek wou ook huil. Daardie oggend het ons die wa gehaat.

Weer het ons oorgepak en ingepak en toe is ons Kamonande toe. In die kar het ons weer vir Oupa verduidelik dat dit die heel laaste keer is wat die waentjie saamgaan. Dis onnodig. Na die afpak en afhaak en wegstoot van die wa was my lae rug weer af. Ek wou weer huil.

“Ek weet nie wat het julle dit so skielik teen die gewraakte wa nie?” het Oupa oordrewe op die stoep gesê. “As hy nie hiernatoe kan kom nie dan het hy geen meer doel nie en hy het vir my jare se diens gegee.”

Daardie aand het ek vir ons steak en aartappels in die pan gemaak. Steak vir krag na die dag en aartappeltjies vir die lekkerte.

 

eend steak en pizza

Resep:

Ek braai nie graag steak in ‘n rooster op die vuur nie. Jy moet jou storie ken as jy dit so doen. Baie keer is die vuur nie warm genoeg nie. Dan braai die sappigheid net uit.

Ek smeer my steak dik met gemaalde swartpeper. Dan maak jy jou pan vuurwarm op die plaat met ‘n bietjie kookolie in om die bodem te bedek. Twee minute aan albei kante sorg vir ‘n blou steak. Vier minute aan beide kante maak hom medium. En agt minute aan beide kante maak hom gaar. Onthou die tye kan verander afhangende van die dikte van jou steaks.

Luister hierna as jou lae rug af is, jy ‘n lekker steak voor jou het en ‘n koue ene in die hand.