Die RSG garnaal- en broccolipasta

(Die ouens wat banting doen kan die pasta uitlos.)

Vroeër vanjaar nooi ek vir Amore oor vir ete. Ja, Amore van Tjailatyd. Daardie aand het ek vir ons garnaal-en broccollipasta gemaak. Ek het hierdie gereg in Amerika vervolmaak. Om presies te wees in die kamerdiens-kombuis. Dis ‘n vinnige heerlike maaltyd. En Amore het haar vingers afgelek van lekkerte.

Later in daardie week bel sy my en vra of ek nie tog die resep op Tjailatyd met die luisteraars wil deel nie. So gesê so gedaan.

Sy bel en ek vertel. Ek verduidelik hoe om die spul bestanddele gaar te maak en later weer bymekaar te bring. Maar ons raak so begeesterd en gesels so lekker dat ek skoon vergeet om die garnale by te sit. Toe moes ek weer teruggaan na die stappie waar die garnale bygevoeg word.

Nietemin sowat ‘n maand gelede nooi Amore vir  my en huismaat oor vir ete. Haar sussie van die Baai het kom kuier. Ons gooi ‘n glasie wyn en kuier net te lekker. Heelwat later roep Amore my kombuis toe. En ek moet sê ek het in daardie stadium nog geen reuke of geure van die kombuis se kant af geruik nie.

In die kombuis gekom sien ek al die bestanddele in ‘n rytjie langs die stoof. “Sal jy dit asseblief vir ons maak dan kan ek sien hoe jy dit doen?” vra sy. Ek het hardop begin lag. Verbeel jou jy nooi gaste vir aandete en hulle moet die kos maak.

“Met graagte en liefde,” het ek gesê.

Laas week het sy my weer gebel en ek het weer die resep met die luisteraars gedeel.

Foto: www.Physion.co.za/ER Lombard

Foto: www.Physion.co.za/ER Lombard

Bestanddele:

1 Pakkie garnale ongeveer 500 gram (Ek verwyder die doppe.)

1 Kop broccoli

3-4 Toontjies knoffel (fyngekap)

250g Room

1 Eetlepel gerasperde suurlemoenskil

1 Pakkie pasta genoeg vir vier mense (Ek gebruik Capellini of Angel hair. Dit lyk baie mooi.)

1 Pakkie sampioene

Sout en swartpeper na smaak

Metode:

Kook jou pasta tot dit al dente is en hou dit eenkant. Met jou mes sny al die blommetjies van die broccolikop af. Soteer jou knoffel, sampioene en broccoli in ‘n bietjie olie. Moenie die broccoli oorgaarmaak nie. Die broccoliblommetjies word ‘n helder groen en moenie bruin word nie. Haal die bestanddele uit en hou eenkant. Maak jou garnale in dieselfde pan as die ander bestanddele gaar. Gebruik nog ‘n bietjie olie as daar te min in die pan oor is. Net voor die garnale gaar is voeg jy al jou ander bestanddele. Die broccolimengsel, die room en die pasta. Garneer met sout en swartpeper en voeg die suurlemoenskil by. Laat die spulletjie vir ongeveer 5 minute prut. Lekker eet.

Die aand by Amore het ons Queen geluister terwyl ons die resep gemaak het.