ELVIS LEWE!

Elvis

Elvis

Net nou die dag vat ek en twee van my Suid-Afrikaanse maters die pad Memphis toe. Graceland. Elvis, Elvis, Elvis.
En ek is ‘n ou ou Elvis-fan. Nie so oud soos my Ouma nie, maar wel ‘n groter fan as my Ouma.

En hier van Atlanta af vat ons toe die Saterdagoggend die pad. Mens ry ‘n stukkie deur Georgia. Dan oor aan die bokant van Alabama deur Burmingham. En so hou jy aan tot jy in Missisippi is. Dan hou jy by die bordjies wat sê Memphis. Want dan gaan jy op ‘n kol die dorpie Tupelo slaan. En as jy op ‘n Elvis-roadtrip is dan wil jy vir Tupelo raakry, want dis waar die koning van rock gebore is.

En so met ons aankoms in Tupelo tref een diepe teleurstelling my. Tupelo is regtig nie veel van ‘n dorp nie. Veral nie die kant waar Elvis gebore is nie. Dit is n teleurstellende ou plekke. Daar is ‘n Meksikaanse restaurant en ‘n garage. En dis al. En jy hoef nie regtig eers bordjies te volg na Elvis se geboortehuis nie. Daar waar die vier karre geparkeer staan is waar dit is. Daar is nie regtig ander karre nie. Dis maar daar. En ons parkeer langs die vierde kar.

Daar’s ‘n klein sentrumpie wat hulle ‘n museum noem. En binne word daar allerhande tipiese Elvis-goed uitgestal. Net langsaan staan ‘n ou kerkie. Wat mooi gerestoreer is en onlangs weer ‘n laag wit verf gekry het. Dis die kerkie of chapel wat Elvis en sy ma-hulle bygewoon het. En by die chapeltjie se voorkant, darem ‘n paar meters weg, staan ‘n ou longdrop. Die longdrop het al beter dae gesien. Dis nou as longdrops beter dae kan sien.

En dan is daar Elvis se geboortehuis. Ag foeitog, mens. Die ou houthuisie is so groot soos twee vuurhoutjieboksies. Die slaapkamer is een vuurhoutjieboksie en die kombuisie is die ander vuurhoutjieboksie.Geen water of krag nie, veral nie in daai jare – 1935 – toe Elvis gebore is nie. En ek reken die Presleys het seker maar die longdrop by die chapel gebruik. Alles is binne so twintig meter van mekaar af. ‘n Armsalige plekkie. Hoewel daar ‘n stoepswaai op die twee-meter wye stoepie van die huisie is. Daar gaan sit ek toe nou ook dat my maters ‘n foto van my kan neem.

Ek en die swaai wip soos ons skrik toe die huisie se sifdeur oopswaai. En ‘n blonde-gemmerkop antie wink ons in. “Die toer gaan begin,” sê sy.

Binne staan ‘n groot dubbelbed. Hy staan die hele ou kamertjie vol. Daars ‘n ou leuenstoel en ‘n spieelkas in die hoek. En ‘n kaggel. En teen die muur tussen die kaggel en die spieelkas hang Elvis se pa, Vernon, se ou hoed aan ‘n spyker. Mens kan nie in die kamer rondloop nie want daar is van daai toue en paaltjies wat keer dat toeriste nader kan gaan as net verby en deurstap. Ek staan by die deur waar ons ingekom het. Tussen die tou en die bed is ‘n klein bedtafeltjie en ‘n horingou stoeltjie wat lyk of hy kan kraak sonder dat jy op hom gaan sit.

Die blonde-gemmerkop antie is die toeroperateurster. Sys in haar vroee sestigs. Haar hare is lank en lê oor haar skouers. En sy het dit die oggend so geblaas dat dit na binnetoe krul. Very seventies. Sy’t ook vir haar ‘n kuifie gesny. En die hang puntjies in haar oe. Haar stem is krakerig van jarre se rook. Sy is nes Elvis ook van Tupelo. En ek kan aan die lyne in haar gesig en haar hang skouertjies sien sy was al ‘n paar keer om die blok. Ver gestap van swaarkry. En nooit verder gekom as die Meksikaanse restaurant en garage nie.
Maar sys baie vriendelik. En sy groet al sewe mense wat gebondeld in die beknopte kamer staan.

Sy begin deur te sê dat net die kaggel, Vernon se hoed en die ou koolstoof in die vuurhoutjiebokskombuis langsaan die enigste goed is wat regtig daar was toe Elvis gebore is. Die bed en spieelkas en so kom wel uit daardie era maar dis nie die regte egtes wat daar gestaan het nie.

Sy haak die tou los en gaan sit op die kraakstoeltjie langs die bed. En sy vertel ons van Elvis en sy grootwordjare. En wanneer sy emosioneel word word die donker sakkies onder haar oe nog donkerder. Dan kry sy haarself weer onder beheer. Maar die permanente afwaartse lyne om haar mond verander nie. En in haar tydverweerde hande op haar skoot frummel sy aan die afgeskeurde papiertjies van ons kaartjies.

Ons vat weer die pad. En ry vir omtrent nog ‘n uur en ‘n half Memphis. Oorkant Graceland koop mens kaartjies. Dan gaan staan jy in ‘n ry en kry oorfone en ‘n elektroniese toergids in ‘n play en pause boksie wat jy om jou nek hang. Dan wag jy saam met nog baie ander toeriste vir die shuttle wat jou kom haal, oor die pad ry en dan regvoor Elvis se voordeur aflaai. In ons shuttle was ‘n paar ou tannies en toe ons voor Elvis se deur stop kon hulle nie meer die opgewondenheid keer nie. Hulle druk en stoot en stamp in die shuttle soos ‘n klomp kallers in ‘n drukgang.

Wanneer jy by die voordeur instap, sê die elektroniese toergids om my nek, moet jy dadelik regs draai. Dit was Elvis se formele sitkamer. Dit is taamlik luuks. En verskriklik luuks vir die Sewentigs. En besonder luuks na Tupelo.
Daars ‘n lang wit bank teen die venster. En die babablou gordyne hang swaar in die kamer. ‘n Lang glas tafel in die middel met kristalbotteltjies op. En ‘n groot spieel teen die muur.

En waar mens in die sitkamer staan kan mens deurkyk na ‘n agterste tipe van sonkamer toe waar ‘n groot swart vleuelklavier staan. Die sonkamer en die sitkamer word geskei deur loodglasvensters met gekleurde poue op.

Die vleuelklavier is oop en jy kan die wit klawers sien. En ek neem opslag ‘n foto. En ek kyk. En ek kyk weer. En my mond val oop. En ek sweer ek het nou net vir Elvis gesien. En ek kyk weer op na die ou vleuel. En daar sit hy. Met sy rug so half na ons toe. En ek haal my elektroniese toergids se oorfone af. En ek hoor hoe speel hy Crying in the Chapel. En ek staan oopmond na hom en kyk. En daar uit die hoek van die sonkamer kom ‘n blonde-gemmerkop antie, met sakkies onder haar oe en afwaartse lyne om haar mond aangeloop. En sy gaan sit langs Elvis op die klavierstoeltjie. En hy speel vir haar.

Sy sit haar hand op sy been. En rus haar kop teen sy skouer. En hy speel. En sing Crying in the Chapel. Net vir haar.
En ek dink, Elvis, jou ou rakker. Jy lewe wragtag nog al die tyd

Jy gaan dalk hiervan hou: