Koester jou Oester

Dis maar ‘n neuk so ‘n vakansiedag op ‘n Dinsdag. Baie soos laas week. Presies soos laas week se Dinsdag. Dit laat my dink aan my eerste oester.

Dit is mos maar woes aardig om op ‘n Maandagaand te gaan staan en kuier. So aan die begin van die werksweek. Maar dit is so half van ‘n moet as jou Dinsdag ‘n vakansiedag is. Dit is so tipe van die lekkerste Maandag in die hele wêreld as jou Dinsdag ‘n vakansiedag is. Dit maak dit eintlik verpligtend om dan die Maandagaand te kuier. Hiep-hiep draai my rubber arm.

In my wilde dae as student het ek my eerste oester gehad. Dit was ‘n Dinsdag. ‘n Vakansiedag. En die Maandagaand het ons gekuier tot digby daglig. Woes, sê ek vir jou, woes.

In elk geval die Dinsdagoggend het ek myself met swart, soet teelepeltjies op ‘n slag Rooibostee gevoer. Teen middagete het my maat voorgestel dat dit beter sal wees om iets met meer substans in te neem. Oesters was haar voorstel.

Ek was nie regtig lus vir oesters nie. Maar sy het aangehou dat oesters die wa deur die drif sou trek. Ons is van my woonstel af na die tellers toe waar ek my laaste R100 gaan trek het. Oesters en ‘n studentebegroting loop nie eintlik hand-aan-hand nie.

Daarna het ons oorgesukkel na die Fish Monger by Cachet park. ‘n Wonderlike Fish Monger waar ek later al menige Aardkloppe deurgebring het.

Ons sit. Bestel wyn. En daarna elk ses oesters. My R100 kon nie verder rek nie.

Die oesters het uit ‘n oestertenk gekom. Een vaan daardie tenks met die water wat so oor die steeds lewendige oesters gedrup het. Ek moet egter bevestig dit was ‘n nuwigheid in daardie stadium vir die dorp. Die tenk was meer van ‘n aantrekkingskrag vir die dorpenaars as die oesters self.

My vriendin was lankal reeds ‘n bietjie meer wêreldwys en het al voorheen oesters gehad. Ek aan die anderkant was vars van die Oosrand af. Daar waar ek geleer is om my tjop met ‘n spanner om te draai.

Nietemin was die oesters kort voor lank by ons. Ek het eers gewag en gekyk hoe sy die oester met haar vurk bymekaar maak. ‘n Druppel suurlemoen. Swart peper. Tabasco.  En uit sy growwe skulp lug.

Dit het baie avontuurlustig gelyk moet ek byvoeg. Daarna het ek ‘n skulp gevat, die oester met suurlemoensap en Tabasco gevoer, gepeper dat dit bars, my mond oopgemaak en gesluk.

My eerste oester was ‘n ontmoeting met ‘n nuwe lewe. ‘n Vars, selfgesoute lewe. ‘n Ontmoeting met die see en die wind ineen. Hemels en verruk. Na ses oesters was die babbie weg. Daar is mos allerhande goed in oesters wat veral goed is vir vroue. Buiten die pêrels is daar ook sink en goed in. As dit by slakagtige goed kom is oesters koning.

Vir my is ‘n oester op sy beste vars uit sy skulp met ‘n titseltjie suurlemoensap en swart peper. Dis al. Maar as jy lus het om te eksperimenteer is hier drie maklike maniere.

BloodyMary op Streoids, oester in ‘n blou kombersie en tampura oesters met surlemoen.

Oester

 

As jy dink ‘n BloodyMary sal jou regsien dan moet jy ‘n Woester Oester Marie probeer. Vodka, Tamatiesap, sout, swart peper en ‘n paar druppels suurlemoensap. Sit ‘n oester in ‘n skeutglasie. Daarna ‘n klein bietjie Vodka. Ek gebruik min Vodka sodat die alkohol nie die oester se smaak hinder nie. Daarna die tamatiesap. Swart peper en’n paar drupples suurlemoensap. Laat hy val waar hy wil.

oesters

Na my mening gaan Bloukaas saam met alles. Selfs saam met oesters. Die truuk hier is egter om ‘n sagte en ligte bloukaas te gebruik anders oordonder hy die arme oester. As jy dus ‘n swaar hand het wanneer dit kom by bloukaas moet jy eerder Mozzerella gebruik. Verstaan jy?

Krummel klein bietjies bloukaas oor die oester en bak in ‘n oond van 180 grade vir ongeveer vyftien minute. Eet dit saam met roosterbroodjies.

oesters2

Tampura oesters. Eet dit net so. Eet dit saam met gras, blare en tamaties in ‘n wrap. Bygereg, hoofgereg, voorgereg dit bly ‘n treffer.

 

Onthou jy die stroie van die nuuskierige oesters?

https://www.youtube.com/watch?v=4imoPRSClkE