Twee dinge, nee, drie…

Nou die dag kry ek hierdie onblusbare lus vir vetkoek. Dis die een ding. Ek stop by my naaste kafee en vra vir vetkoek en maalvleis. Presies op daardie oomblik whatsupp ‘n vriendin my en vra hoe dit gaan.

Sy soek werk op die oomblik. Ek het ook vir ‘n lang ruk werk gesoek. ‘n Mens tree mos nou nie elke aand op nie en maak ook nie elke aand vir ander mense kos nie. Ek het werk gesoek sodat ek nie in die dag so half lamlendig is nie. Ek het intussen ‘n fantastiese werk gekry. Dis die ander ding. Ek het werk gekry by ‘n inbelsentrum. Die maatskappy doen lewensdekking en ons op die inbelsentrum se vloer stuur vir ons polishouers se vriende en familie geskenkpakke. Braaistelle en sulke goed.

In elk geval, ek bestel toe twee vetkoeke en ry na die vriendin toe. Die maalvlies was geurig, maar die vetkoek was soos ‘n oliebol. Eintlik grillerig. Die olie waarin dit gebraai is was nie warm genoeg nie en toe suig die deeg die olie op. Na die moed-inpraat-sessie is ek toe weer weg.

Maar my lus vir ‘n regte goeie vetkoek was nie gestil nie. Die volgende dag ry ek toe na ‘n kafeetjie in Linden. Daar reg oorkant die Dopperkerk. Daar kry ek toe ‘n standaard vetkoek. Een van die lekkerstes wat ek nog ooit gehad het. Amper so lekker soos my ouma Tjoerie sin.

Vetkoek en maalvleis by die kaffee oorkant die Dopperkerk.

Ouma Tjoerie kon die beste vetkoek in die hele land maak. Somtyds het sy ook growwe meel gebruik. Ons het dit metbotter en dik snye kaas geeet. Soms met ‘n bietjie stroop of heuning.

Die truuk met ‘n vetkoek is nie noodwendig net die tipe deeg wat jy maak nie, maar die olie. Die olie moet warm genoeg wees dat die buitekant tipe van krakerig seel en die binnekant sag en vogtig bly. Jy kan sommer brooddeeg by jou Spar koop en gebruik. Die vulsel is ook jou eie keuse. ‘n Kerrie maalvleis doen dit weer vir my.

Nou net voordat ek ‘n resep deel moet ek eers by die ander ding kom. Die derde ding is dat ek komende Saterdag by die Pierneef-teater in Pretoria sing. Douw Steyn en Mariette Galjaard deel met my die verhoog. Ek kan nie wag nie.

Pierneefteater

Dit was dan nou die drie dinge wat ek wou sê.

Hier is ‘n resep waarmee jy jou beslag vir vetkoek kan maak.

Bestanddele:

1 Pakkie gis

2 t Sout

2 Eetlepels suiker

7 Koppies meel

Genoeg olie om die vetkoek in te diepbraai. Dit gaan baie wees.

Metode:

Sif die meel en die sout saam. Meng die gis en suiker met ‘n bietjie louwarm water. Laat dit vir 5 minute staan. Voeg die water met gis en suiker by die meel en begin knie. Voeg nog water by totdat ‘n brooddeeg vorm. Sodra die deeg bymekaar kom kan jy ‘n klam vaddoek daaroor gooi en vir ongeveer ‘n uur laat rys. Die beslag moet verdubbel in grootte. Verhit die olie tot 200 grade Celcius. Enigiets laer is te koud. Maak vuis-grootte balletjies van die deeg en braai dit in die olie tot goudbruin. Ongeveer drie minute aan elke kant. Bedien warm. Hoe dan anders.