Verna en Dietrich

Ek het mos Verna se resepte. Resepte wat sy oor jare bymekaar gemaak het. En terwyl ek en ER Lombard deur haar resepte gaan kom ons toe af op ‘n resep van Marlene Dietrich. Dit was ‘n resep wat êrens uit die sestiger jare dateer. In daai jare was daar mos nog nie internet nie so hoe kon Verna hierdie resep gekry het?

Resepte wat Verna oor die jare versamel het.

Verna se resepte

Ek gaan doen toe so ‘n bietjie navorsing en kom agter dat Dietrich in April 1966 in Suid-Afrika kom toer het. En in daardie tyd het liewe Verna die geleentheid gekry om ‘n onderhoud met Dietrich te voer. Is dit nou nie net ongelooflik nie?

Verna se Resepte

En dis tydens daardie onderhoud wat Marlene toe vir haar haar tongvisresep gegee het. Volgens gerugte was Verna daarna in ‘n stadium by in Frankryk by Dietrich aan huis, maar ek kon ongelukkig nog geen bewyse daarvoor vind nie.

Verna se Resepte

Die bande waarop onderhoude en ander radiorubrieke destyds uitgesaai is is na uitsending weer gebruik en oor en oor daaroor opgeneem. Die SABC het dus geen argiewe van daardie jare nie wat natuurlik bitterlik hartseer is.

Maar onder is ‘n video wat jy kan kyk om jou in daardie jare in te dink. En oor Marlene se resep? Dit is heerlik.

Verna se Resepte

  • Darling, the legs aren’t so beautiful, I just know what to do with them. – Marlene Dietrich 

     

    Resep:

  • 4 Medium Tongvisse
  • 1 Eier
  • 1 Koppie meel of krummels
  • 1 Appel
  • 2 Piesangs
  • 1 Peer
  • Halwe pynappel
  • 1 Teelepel kerrie
  • 3 Eetlepels suurlemoensap
  • 1 Roor soetrissie
  • ‘n Blikkie room (250g)

Metode:

Doop die tongvisse eers in eier en daarna in meel of krummels. Bak hulle in ‘n hittige pan met botter todat hulle gaar en goudbruin is. Sny al die vrugte in blokkies. Meng die kerrie met ‘n bietjie melk en kook dit vir drie minute. Voeg die room by en daarna ‘n bietjie van die vrugte. Laat dit vir vyf minute kook. Sit dadelik die res van die vrugte by en meng dit goed met die sous, maar moenie dit verder kook nie. Dit moenie ‘n pappery word nie. Die res van die vrugte, hoewel warm, moet nog kraakvars wees.

Bedien voor.