Verna se hondebeskuitjie-resep

Die eerste keer toe ek vir Verna ontmoet het was dit opmerklik hoe lief sy vir diere was. Ons Katrientjiekind het soos ‘n wildewragtag onder tafelgebed op Verna se skoot gespring en dan het Verna haar laat begaan. En net voor ons eet sou sy haar saggies aftel. Sy het die wêreld se geduld met diere gehad. En haar hart was groot. Reusagtig groot. Nie net vir diere nie, maar vir mense ook.

Verna het twee poedels gehad. Vici en Lesie. Vici is vernoem na die vername operaster Victoria de los Angeles en Lesie is Elisabeth Schwarzkopf vernoem. Ook ‘n operaster. Verna was mal oor Opera. Toe sy die tweetjies aangeneem het het sy vir Marietta gesê dis net ‘n mal ou vrou wat op haar ouderdom twee hondjies aanneem. Ons het vreeslik daaroor gelag want Verna kon net nie sonder diere om haar wees nie.

Verna se Resepte

 

Verna het hierdie hondebeskuitjie-resep gehad. Elke dan en wan sal Verna haar vriende wat ook troeteldiereienaars is bel en sê dat daar byvoorbeeld komende Donderdag hondebeskuitjies gebak gaan word. Dan sou almal hulle bestellings gee en Verna en Fransiena sou dan daardie dag bak en brou en beskuitjies droog dat dit bars.

Verna se Resepte

Tot onlangs toe nog het sy die resep vir ‘n vriend en vriendin van haar ge-e-pos. Sy het die e-pos afgesluit met: “Die honde is mal daaroor. Liefdegroete Verna.”

Ek het op die resep afgekom en dit gemaak en ek moet met Verna saamstem die honde is mal daaroor.

Verna se Resepte

 

Hier is Verna se resep:

500 g Hoenderlewers

1 Ui (Fyn gekap.)

1 Desertlepel knoffel (fyn gekap.)

4 Koppies Jungle oats

2 Koppies mieliemeel

2 Koppies semels (bran.)

2 Koppies koekmeel

1 Eetlepel olyfolie

Metode:

Kap die hoenderlewers, ui en knoffel tot dit ‘n pasta vorm. ‘n Voedselverwerker of handmenger kan ook gebruik word. Voeg dan die res van die bestanddele by en knie totdat dit ‘n deeg vorm. As dit te droog is kan jy ‘n klein bietjie water byvoeg. Die deeg kan dan net soos beskuit gebak en gedroog word. Ek het egter balletjies gevorm en dit met die hand platgedruk en toe in ‘n oond teen 180 grade Celsius gebak.

(Raadpleeg jou veearts voordat jy vir jou troeteldier iets voer. Sommige diere het verskillende allergie. Knoffel en uie veral in oormaat kan negatief wees vir jou troetel se gesondheid wees.)